Tuesday 13 December 2016

Dis Dinsdag - tyd vir boeke


As 'n enigste kind was lees vroeg in my lewe al 'n toevlug. 'n Toevlug uit alleen wees, uit verveeld wees en ontsnap na 'n wêreld buite jou eie. In graad 2 moes ek aan die skool biblioteek juffrou bewys dat ek goed genoeg kan lees om boeke te kon uitneem uit die groter kinders se afdeling. Na my juffrou se insette is ek toegelaat my te verlustig in Liewe Heksie, Pippie Langkous, Trompie en Saartjie. So het ek baie vinnig myself deur dit wat toe beskikbaar in Afrikaans gewerk - dis net Maasdorp wat my nooit regtig geinteresseer het nie. Maar Die Uile was my absolute gunsteling tot ek Frits Deelman en die Lennet boeke ontdek het.  In Engels is elke liewe Enid Blyton boek verslind en Nancy Drew en die Hardy Boys. 'n Lekker speur storie was maar altyd my kos - van vroeg af. Dit is daarom so heerlik om my Prinses te sien lees - ek sien myself op dieselfde ouderdom - met dieselfde lekker en uitdagings - en presies dieselfde Nancy Drew boeke!

Gou het ek myself dus so half sonder nuwe leesstof bevind - tot my Ouma Anna (sy was 'n besondere vrou - ek het hier oor haar geskryf) besluit het ek is oud genoeg vir haar Ena Murray boeke en selfs Danielle Steel. Ek het stadig deur haar boekrak gewerk - hier al op laerskool. Vir my 12de verjaarsdag het ons buur tannie haar eie boek vir my gegee - "Waardin in die Wolke"  - ek was heel verstom om te ontdek Tannie Ettie (Bierman) was 'n skrywer. So het ek al haar boeke ook verslind.

By die biblioteek in Waverley was daar twee tannies - een wat altyd geglimlag het en my enige iets laat uitneem het, en een wat kwaai oor haar bril geloer het en vir wie ek altyd moes oortuig ek het regtig al deur die kinder afdeling gewerk. Hier in standerd 5 kyk die kwaai tannie eendag na my Mills and Boons hopie vir die dag en sug. "Nee wat my kind", sê sy. "Los hierdie - kom saam". En sy prop "The Hobbit " in my hand - en "Dune" van Frank Herbert en "The Clan of the Cave Bear". En dit was die einde van my belangsteling in enige boek wat as romanse bestempel kan word. 'n Hele nuwe wêrel het vir my oopgegaan.

Dus was dit vir my 'n onverwagse uitdaging toe ek gevra word om "Wilde hawer" van Madelie Human te lees.
Wilde klawer is 'n omnibus met 3 Romanza boeke - "Om Ben lief te hê", "Om Dirk te tem" en "Om Kobus te ken". Ek het so langtand begin lees aan die eerste boek en voor ek my kon kry het ek was ek vinnig deur die boek - en gaan toe maar sommer aan met die tweede een en die derde een.

Alhoewel ek dood eerlik moet erken dat hierdie nie my gewone koppie tee is nie, het ek werklik lekker gelees. Verbasend - maar dit is wat gebeur as jy jouself buite jou gewone gemaksone uitdaag. Jy mag dit dalk net geniet. Ek dink wat die verskil was van die gewone liefdesverhaal is dat Madelie Human romanse uit 'n komiese oogpunt benader - en dit maak al die verskil. Dink "When Harry met Sally" in 'n Afrikaanse boek. So bietjie tong in die kies oor die liefde en die tipiese slaggate rondom dit.

As jy hou van romantiese komedies is hierdie heerlike vakansie leesstof. Dit is ook 'n baie oulike Kersgeskenk vir enige iemand in jou lewe wat van hierdie genre hou.

Boheem van Chanette Paul 


Kayla Cilliers (voorheen Katrien Bresselaar)  beland op die kunstenaarskolonie Bohemia met 'n verlede vol geheime  - net om haar in 'n moord vas te loop. Sy kan hierdie komplikasie in haar lewe nie regtig bekostig nie - veral nie met haar vingerafdrukke op die moordwapen nie.

Hierdie is die derde boek in Chanette Paul se Gys Niemand reeks wat afspeel in die Niemandsdorp omgewing. Gys, Gertjie en die nimlike Faantjie Fortuin (my gunsteling van die trio) is na Springety en Fortuin al ou bekendes. Dit is volgens my een van die lekkertes van hierdie reeks - elke storie is uniek, spanningsvol en vol intriges maar 'n mens voel tuis in die bekendheid van die drie deurlopende karkaters.

Boheem is gevul met heerlike kunstenaar karkaters soos wat die omgewing van die boek toelaat. Judy was vir my 'n gunsteling wat kleurvol beskryf word - maar elke karkater in die boek is lewensgetrou - in hierdie geval meestal in hul eie eksentrieke denke. Dit is maklik om 'n prentjie te vorm sonder dat die skrywer in lang beskrywings verval.

Die storie is tipies van die reeks deurlopend op 'n spanningslyn geskryf met 'n bietjie komedie ter verligting gesprinkel. Ek het veral geniet hoe die magspel selfs in so 'n omgewing tussen karakters uitgespel word -in 'n omgewing waar mens nie so iets verwag nie - of moet mens juis? Is kunstenaars verhewe bo die soek na mag en erkenning of is hul juis soveel te meer soekend daarna? Getrou aan die reeks sal daar wel romanse iewers ter sprake wees maar sonder om noodwendig die storie se lyn te beinvloed of oorheers.

Twee vrae bly by my - gaan Gys en Gertjie ooit bymekaar uitkom? En wanneer gaan die Visvrou se misterie verduidelik word?

Boheem is 'n heerlike boek en perfekte vakansie leesstof. Die Gys boeke word almal tans weer uitgegee met pragtige nuwe skudblaaie.  9/10 vir 'n uitstekend geskryfde boek.

LAPA het die boeke aan my verskaf vir resensie doeleinde - die opinies hier uitgespreek is egter 100% my eie

9 comments:

  1. Ek het net so lekker gelees as kind! Ook elke twee weke by die Biblioteek gewees en deur 12 boeke gewerk (my ouers se kaartjies ingeksuit) elke 2 weke!

    ReplyDelete
  2. Ek het die hele Maasdorp reeks gelees, Jasper-reeks asook Saartjie en Trompie. En daai "kies jou eie avontuur" boeke :-). My gunsteling op skool was Die Towervuurhoutjie.

    ReplyDelete
  3. Heerlik om saam met jou daardie eerste ontdekkings van boeke te onthou. Met jou opsommings oor Wilde Hawer en Boheem kan ek hartlik saamstem

    ReplyDelete
  4. Sjoe, ek het lanklaas so baie Afrikaans gelees. Dankie! Jy het nou lekker my memory geruk met hierdie storie. Ek self het as kind elke dag ure in die biblioteek gaan sit en boeke lees.

    ReplyDelete

So what's on your mind?