Tuesday 11 April 2017

Dinsdag en tyd vir boeke - Ver in die Wêreld Kittie en Foxtrot van die liefde

Ek is deel van die toebroodjie generasie - die generasie wat ouer was toe hulle kinders gekry het en nou tussen ouerwordende ouers en klein kinders gedruk word. Almal vereis sorg en jy kan nie regtig op ouers steun om te help met kinders versorg nie en ook nie anders om nie. Hierdie is nie 100% die geval met beide Kittie en Katalaya, die heldinne van die twee boeke waaroor ek vandag gesels nie. Wel dalk vir Kittie se broer en suster want Kittie het nie kinders nie. Dit maak egter nie saak of jy ouers het wat verswak nie of klein kindertjies het nie - Kittie en Katalaya se verhoudings met hulle ouers en die res van hulle familie sal heel moontlik vir jou bekend voel.

Dit is hoe verhoudings uitgebeeld word wat my aantrek na beidie van die boeke. In albei word verhoudings uit alle kante bekyk maar veral ook die een wat elke vrou van geboorte het - die een met haar ma. Vir my is dit heel relevant - my ma is ook besig om te verswak - nou wel nie verstandelik nie maar liggaamlik. In Foxtrot van die liefde word Katalaya se ma se verstand al swakker maar haar liggaam hang hardnekkig aan - in Ver in die wereld Kittie is die teenoorgestelde die probleem. Die feit bly dit is nie maklik om oud te word nie en allermins maklik om dit te aanskou met jou eie ma.

Foxtrot van die liefde - Kristel Loots
 Katalaya is funky en sestig (en mag ek tog op sestig so funky wees) en laat haar nie sommer onder kry nie. Maar nou gaan staan en los Franco haar en haar volwasse kinders dra by om haar silwerwit hare nog witter te maak. Katalaya se lewe is losweg net omver gegooi deur alles wat sy voel op haar afstorm.

In wat vir my haar grootste worsteling is moet Katalaya haar seniele bejaarde ma nog besoek en die verflenterende bande optel en styf hou. Tipies van haar ouderdom probeer sy uit die siekeboeg en haar senieliteit steeds beheer te kry oor Katalaya se lewe. Toe haar ma nog beweer dat 'n man met n Elvis kuif haar besoek in Huis Herfsblaar bars die sweer van die verlede oop en word sy bloot gestel aan die dinge watarvan niemand ooit gepraat het nie. In 'n pelgrimstog na haar verlede val soveel stukke in plek.

Bo alles gaan die boek oor verhoudings en familie dinamika. Katalaya worstel nie net met die verhouding met 'n ma wat verder van haar dryf omdat sy haar verstand verloor nie maar ook met haar verhouding met haar kinders wat besig is om in flarde te val. Natuurlik ook haar flenters huwelik.

Foxtrot van die liefde is alles behalwe jou tipiese liefdeseverhaal. Dit is soveel meer (met net genoeg romanse) en regtig 'n heerlike lees. Ek het soveel deernis gekry vir Katalaya. Ek wens sy was my vriendin. 'n Baie besliste 8/10 vir 'n heerlike lees met meer diepte as wat mens verwag van die voorblad greep.

Ver in die wêreld Kittie van Santie van der Merwe
 Kittie word teruggeroep uit Engeland om haar ma wat pas 'n beroerte gehad het te versorg. Kittie het nie veel van 'n keuse nie - dit is haar beurt soos haar suster uitwys en bowendien het sy nêrens anders om heen te gaan nie as om terug te keer na die stowwerige dorpie van haar grootword jare.

Kittie moet die verlede wat sy so suksesvol verby presteer het vierkantig in die oe kyk. Sy wat altyd gevoel het asof sy die stiefkind, die ongeliefde een was moet die een wat haar die meeste te na gekom het, versorg. In die proses word soveel meer van haar verlede aan haar bekend - ook haar ma se geskiedenis. Soos wat Kittie se ma meer beheer oor haar liggaam wen werk Kittie deur soveel in haar verlede en albei word heel in die proses.

Hierdie boek het my baie diep geraak - nie net Kittie se agtergrond, verlies en hartseer nie maar ook haar ma s'n - en die res van die familie. Die verskillende maniere waarop die kinders met die swaarkry en verlies om gaan is word baie raak uitgebeeld. Wat my ook diep geraak het is die dele wat uit haar ma se stem geskryf is en hoe swaar dit moet wees om beheer oor jou eie liggaam te verloor terwyl jou verstand steeds skerp is.

Onthou daai rooi jassie in Schindler's list? In hierdie boek is daar ook 'n rooi jassie en hy het my net so diep geraak. Die hartseer en swaarkry in 'n enkele simbool vervat.

Hierdie boek is oor verhoudings en ja, daar is seker so klein liefdesverhaal versteek, maar bowenal is dit oor hoe een vrou haar verlede oorwin.  Die boek is pragtig geskryf , vol sensitiwiteit en die besondere mooi omslag verdien ook om genoem te word.Lees geru - 9/10 vir 'n pragtige verhaal.

No comments:

Post a Comment

So what's on your mind?