Monday 1 October 2018

Retoer - 'n lekker bundel rubrieke


Ek is nie ‘n liefhebber van die kortverhaal genre nie. Gee my eerder ‘n ordentlike lang genoeg roman. ‘n Kortverhaarl is vir my soos om ‘n hoofgereg te bestel – jy kry dan net kans om so 3 happe van jou duck-le –orange te eet voordat dit weggeneem word en vervang word met ‘n lekker fillet waarvan jy ook net 3 happe mag eet voordat dit vervang word met nog ‘n lekkerte vir net 3 happe. Nee dan eerder die vol lekker ete van ‘n roman.  Rubrieke is egter iets anders – dit is soos om aan te sit voor ‘n heerlike verskeidenheid tappas waaraan jy met elkeen net genoeg van een lekkerte kan proe. En moet nie van die geselligheid van tappas eet vergeet nie – tappas kan jy saam met vriende geniet. So ook rubrieke – kort genoeg om gou voor te lees en te deel met iemand.
“Retoer, Pretoria – Provence” of dan soos Marita van der Vyver dit self beskryf “ die ongeloolike avonture van ‘n skrywende ma” is soos ‘n heerlike tafel propvol van die lekkerste moontlike tappas , keurig uitgepak en pragtig op die oog en die tong.
Tipies van Marita se heerlike skryfstyf kuier sy so gesels gesels met jou deur haar storie – slim verdeel onder die titels van haar boeke wat dit selfs interessanter maak vir haar gereelde lesers. Van stories van haar kinderdae (“’n Fees op wiele “ is my gunsteling) tot haar begin skrywersdae en dan natuurlik die lewe in Provence op die platteland. “Platteland bly platteland” is so heerlike stukkie wat my groot laat glimlag het. Tipies Marita word die vrolike ook afgewissel met die harseerder in die lewe. Ouer word, groter word en die veranderende wêreld waarin ons ons bevind. As die ma van ‘n net-net tiener het ek die stories oor tieners grootmaak baie geniet en selfs soms bietjie anders begin dink.
Ek kan die heerlike reis van Marita deur haar lewe (tot nou – sy is veels te jonk vir ‘n outobiografie) sterk aanbeveel. Soos ons Marita ken is daar hope humor in die stories en hope deernis waar nodig is. Die allerdaagse gesien uit die oë van ‘n kunstenaar.  Lees gerus! Vir my was dit die lekkerste kuier ete saam met Marita.

No comments:

Post a Comment

So what's on your mind?