Friday 7 September 2018

Tyd vir boeke - Lam ter slagting


Ek het Madelein Rust ontdek met “Moordhuis” – seker een van die heel beste krimis wat ek nog ooit gelees het. My verwagtinge was dus baie groot vir haar nuutste boek “Lam ter slagting”. Die boek het nie een oomblik teleurgestel nie.
Weereens is die komplekse Renata Malan ons speurder wat ons deur die verhaal neem. Ek is nogals opgewonde oor die ontwikkeling wat in hierdie karakter gebeur deur die reeks boeke waarin sy die heldin is. Ek kan eintlik nie wag om te sien wat met haar gebeur nie.
Renata en haar span word ingeroep om die moord op 5 meisies te ondersoek wat gruwelik gemartel en geplant word met die duidelike verwysing na ‘n moontlike reeksmoordenaar. Die meisies is so geskend dat identifikasie moeilik is. Die hulp van ‘n outistiese beeldhouer word ingeroep maar toe hy gearisteer word vir die moorde besef Renata dat daar baie meer agter hierdie moorde skuil as bloot ‘n reeksmoordenaar.
Dit is ‘n komplekse verhaal wat korrupsie, regeringsamptenare op hoĆ« vlakke, sada-masochiste, menselhandel, geldwassery, kultusse en selfs die Vrymesselaars betrek .
Soos ons gewoond is aan Madelein Rust se boeke is die spanningslyn uitstekend gehanteer . Die opbou, deurganse hou daarvan en ontknoping is meesterlik en hou mens op die punt van jou stoel, of dan nou wakker in die nag om net nog daai een hoofstuk te lees voor jy gaan slaap.
Wat egter vir my die sterkste punt van haar skryfwerk is is die uitstekende karakters wat in haar boeke leef. Elke een het ‘n volrond karakter en ek kan my dadelik indink hoe hulle lyk of praat al is dit soms ‘n randkarakter. Malan en Coetzee se nuwe rekruut, Nico of te wel Legend het solied ‘n plek in my hart oopgekrap. Die outistiese beeldhouer, veral sy ma en ook sy broer is regte volrond mense wat ek voel ek ken. En so kan ek aangaan oor omtrent elke karakter in die boek.
“Lam ter slagting” is nog ‘n wenner uit haar pen. Ek kan nie wag vir die volgende boek nie.