Tuesday 28 March 2017

Dinsdag en tyd vir boeke - n lekker jeugboek vandag

If one good thing came out of my inactivity after my little accident, it is the reading. I have  read more books in the last 3 weeks than what I usually read in about 2 months. So I have lots to talk about on Tuesdays, but today I start with a wonderful Afrikaans youth book - so if you are looking for a great series of books to improve your daughters' Afrikaans from about 12 (even for second langauge ) - read on.

Meeste van ons boekwurms se kinder herinneringe sluit boeke in. Ai die lekkerte van Saartjie! Saartjie en Trompie was vroeë leesgenot - kortop gevolg deur die Uile en die Lennet reeks. Maasdorp was nooit my gunsteling reeks nie - seker omdat Kobie net eenvoudig nie my tipe meisie was nie - maar was Saartjie dan? Ek weet nie regtig nie - my gunstelinge was steeds die onnutsige maar goedhartige Uile van Kranskop - al was ek 'n meisie. Wat ek wel weet is dat ek elke liewe Maasdorp boek gelees het ten spyte daarvan dat ek nie regtig van Kobie gehou het nie Die aantrekkingskrag was natuurlik die koshuislewe so lekker uitgebeeld daarin. Almal wou koshuis toe - hoekom dan nie? Dit klink asof alles lekkerder en meer avontuurlik is in Maasdorp koshuis as by ons eie huise in voorstedelike Pretoria/Kaapstad of Johannesburg.

Ons wil almal ons lees passie en lekkerte met ons kinders deel en daarom het ek gretig vir A die eerste Saartjie omnibus gekoop - net om deur my boekwurm ingelig te word dat dit regtig nie lekker lees nie. So ook Trompie vir die seuns - dit lyk asof alhoewel vermoderniseer, die stories nie ons kinders aanstaan nie. Toe ek dus later hoor dat die Maasdorp boeke, hoewel nuut uitgegee, nie regtig geniet word nie (ons het een by die bib uitgeneem en ja, is nie eers halfpad gelees nie) het ek so half in my mou gehuil oor die lekkerte van koshuisboeke wat my kinders nou gaan mis. Tot my groot plesier ontdek ek toe die Gravitas reeks van Christien Neser. Ek het voorheen oor haar briljante "Amper Einstein" geskryf en Christien is beslis iemand wat 'n jeugverhaal kan skryf wat volwassenes net so geniet.

Heel gepas met 'n Cream Soda float in die hand gelees.
Die opgewondenheid van my 12 jarige meisiekind by die sien van "Pienk Bikini" moes voorspel het dat sy en ek die boek gaan geniet. Ons het amper loodjies getrek so groot was die afwagting maar ek het ingegee dat sy eers lees aangesien ek 'n stapeltjie het wat wag op my bedkassie.

Prinses A skryf oor die boek: Pienk Bikini is die storie van Elle na sy verkies word as die hoofmeisie van Gravitas skool. Elle is baie opgewonde maar ter selfde tyd baie onseker oor haar nuwe rol. Sy betwyfel heel tyd of sy dit verdien en goed genoeg kan doen. Dan is daar nog Shia en haar inmengerige ouers wat net wag dat Elle 'n fout maak sodat Shia kan oorneem as hoofmeisie.  Elle se werk met die kinderhuis se kleuters sorg vir 'n baie prettige maar op die ou end problematiese modderstoeigeveg. Ek het regtig lekker aan die boek gelees en was bly om al my gunsteling Gravitas karakters weer raak te loop in die boek - ek het reeds Koshuiskofiie en Blou Sjokolade gelees. Ek hou veral baie van Refilwe wat so 'n prettige vriendin is. Sy is altyd vrolik en sal jou nooit in die rug steek nie. Sy het ook vir my my nuwe gunsteling woord gegee - "gomverdorie" Hierdie was 'n heerlike boek!

My opinie: As volwasse leser het ek heerlik aan Pienk bikini gelees - dit is werklik een van daardie jeug boeke waarin die taal, storie en skryfstyl nie vir een oomblik sy jeugdige lesers en hulle ouers onderskat nie. Vir my was elke karakter en die hele Gravitas omgewing nuut en vars en n absolute lekkerte. Ek hou daarvan dat Elle effe onseker voorkom - dit is iets wat ek dink meeste meisies van die ouderdom mee sukkel - al mag hulle dit dalk self nie noem nie. Ek weet my dogter is soms onseker en ek dink dat Elle so suksesvol is ten spyte van dit is 'n heerlike aansporing vir die meisies. Dit is nie maklik om 'n tiener te wees nie en Elle en haar maats spreek daardie onsekerhede en angstigheid goed aan met 'n prettige ondertoon. Elle is beslis my tipe meisie en ek hou sommer baie van haar en haar vriende. Ek gaan beslis die ander Gravitas boeke in ons huis lees - en seker maak my Prinses A kry die res ook onder oë. Ek moet natuurlik ook soos sy Refilwe uitsonder as die aller lekkerste karakter. Sy is daardie een vriendin wat elke meisie of vrou nodig het - lojaal, prettig, positief en so effe astrant.

Die Gravitas of dan Elle reeks is ons keuse van geskenke vir die graad 6 meisies in ons "jaar van boeke as geskenke" Die boeke het als wat mens kan verwag van 'n goed gebalanseerde jeugreeks en elke meisie was tot dusver erg in haar noppies met haar geskenk.

Pienk Bikini kry van albei van ons af 'n vrolike pienk 9/10! Gomverdorie maar dit is 'n heerlike boek!

3 comments:

  1. Sê ek ook! Heerlike ontvlugting, terugglip na jongmenstyd

    ReplyDelete
  2. Ek het vreeslik van Saarjie en Trompie gehou!

    Dis vir my moeilik want my kinders se Afrikaans is nie goed nie, en ek wil nie geld mors om Afrikaanse boeke te koop wat hulle nie gaan lees nie. Victoria (17) lees vreeslik graag.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek is seker sy sal hierdie geniet - sal maklik genoeg wees en die karakters is amper in matriek

      Delete

So what's on your mind?