Daarom wil ek graag vandag gesels oor twee boeke wat my hart diep geraak het. Albei skrywers was nuut vir my en ek gaan baie beslis meer van hulle boeke lees
Helende liefde - Anna Penzhorn
Ek het dadelik van Andrea gehou - n professionele vrou wat n skybaar ideale amper idilliese lewe lei op die platteland. Na 13 jaar ontdek sy dat haar man wat sy so gek oor is, Dewald, 'n rondloper is. Die slag is nog harder toe sy uitvind wie die verleidster is. Skielik moet Andrea nie net haar huwelik nie maar ook haarself en wat vir haar saak maak in die lewe heraanskou. Selfs haar rol as dokter is nie meer vir haar helder nie.
Vir my was Andrea se emosionele paadjie wat sy moes loop uiters aangrypend. Noem maar -ontkenning, woede, gedagtes van vergelding, bevraagtekening van haar eie waarde en soveel meer, wat sy deur moes werk. Bo alles natuurlik die uiterse hartseer van 'n verwerpte vrou. Die verwoesting wat egskeiding saai is groter as wat mens seker besef as jy of iemand naby aan jou nog nooit daardeur is nie.
Andrea se ontwikkeling as mens en haar aanpas by haar omstandighede is eintlik vir my waaroor die boek gaan. Die insig in haar innerlike en gevoelens is baie suksesvol en raak mens se hart. So beweeg sy ook aan deur uit te reik na ander wat minder het as sy en ontdek dat deur vir ander liefde te gee jy self kan heel word - vandaar die titel "Helende Liefde".
Ek sal die boek sterk aanbeveel - dit het my werklik meer insig gegee in wat die rondom ons soms deurgaan en hoe goed hulle daardie swaarkry wegsteek. 8/10 vir n baie goeie boek.
Heiliger - Dibi Breytenbach
My tweede keuse mag dalk vreemd lyk- n krimi en ek gesels oor emosies? Later meer daaroor maar eers die res.
Heiliger is 'n warboel van gebeure - 48 uur van hel vir Hendrik en Amalia! Vroeg oggend moet hulle letterlik die dood van 'n goeie vriendin in die oë staar en daarna hou dit net nie op nie soos die lewe hulle twee bestook met dinge - als in een dag. Dis n warboel van gebeure, emosies en als in die klein plattelandse gemeenskap van Witteberg. Selfs die droogte in die omgewing is 'n karakter in sy eie reg.
Dit is baie duidelik dat die skrywer baie goed nagevors het oor regsprosedures maar ook hoe die proses in 'n tipiese plattelandse dorp sal verloop. Die details rondom selle, polisiestasies en polisiemanne. Wat my veral getref het is hoe die verhouding en spanning binne hierdie sisteem uitgebeeld word.
Die spanninglyn is amper van bladsy een daar en verslap nie 'n oomblik tot die einde nie. Soos 'n storm die uiteindelike verligting van die droogte gee ontknoop die verhaal op dieselfde manier en tyd. Dit is werklik meesterlik gedoen.
Terug na dit wat die hart raak. Die sterkste punt van hierdie boek lê in Dibi se vermoë om simpatie met karakters te skep. Van Hendrik en Amalia wat tradisioneel jou simpatie moet trek deur elke liewe karakter - selfs die lafhartige Richter se beweegredes wek simpatie. Die uitgewekenes, die ontnugterdes en die moeg vir die lewe mense - een en almal. Natuurlik ook vir my gusteling Butomncane Buthelezi - die een man wat altyd sal staan vir rede en geregtigheid. Daardie siele moet ook daar wees om die balans en teenpool te skep vir die lafhartiges.
Heiliger is een van die beste krimis of spanningverhale wat ek in 'n lang tyd gelees het - en ek lees baie! Ek het nie een van die skrywer se vorig boeke gelees nie en alhoewel daar verwysings terug is kan mens die boek op sy eie lees.
Ek gee Heiliger 10/10 vir 'n uiters uitstekende lees. Ek kan nie wag om Saliger en Vrediger onder hande te kry nie.
Jy som die boeke en die emosies daaragter, meesterlik op, Rina. Ek stem heeltemal saam met jou gradering van die werke.
ReplyDeleteBaie dankie Amanda!
DeleteI wonder (tell me if you agree) if I should try an Afrikaans book like the first one.
ReplyDeleteI haven't read any Afrikaans since school days (except two Afrikaans books Louisa bought for my kids' one birthday a few years ago) so I'm very, very rusty.
I think you should. I think if we can find you the Afrikaans Sinead Moriarty you would be happy
Delete