Tuesday 17 January 2017

Dinsdag - en tyd vir boeke


Inspekteur Derek Briel vermy Luderitz al lank - sy grootword dorp waar sy pa steeds bly. Totdat hy geen keuse gelaat word nie en soontoe gestuur word om die moord op die Jurgen troost te ondersoek - 'n moord waarvan baie van die feite net nie sin maak nie. Sy vrou is vies oor hy soontoe moet gaan en praat nie eers met hom nie en boonop is hy hond siek en voel hy kan nie reguit dink nie. Die teenwoordigheid van sy skool verliefdheid, sy juffrou Lena wat boonop sy pa se buurvrou is, help nou nie eintlik om sy kop helder te hou nie.

Konrad skryf 'n effe anders spanningsverhaal met twee storielyne - een wat 'n groot deel grootword verhaal insluit in die terugflitse na Derek se skooldae en dinge wat toe gebeur het en hoe dit sy lewe vandag beinvloed. Die ander is natuurlik die hedendaagse en word parallel vertel.

Die skrywer skep weereens 'n wonderlike omgewing en atmosfeer vir die verhaal - die mistigheid en reuke wat in Luderitz rondhang word so deel van die verhaal dat dit amper 'n karakter op sy eie is. Dit is een van Isa Konrad se skryfelemente wat ek regtig baie geniet. So ook die ou huis waarin Lena bly - mens kan hom duidelik in jou kop teken. Met dit saam moet ek melding maak van die besondere mooi taal wat sy gebruik in die boek - beskrywend sonder langdradigheid. 

Die spanningslyn het 'n goeie pas en die ontknoping is meesterlik en was vir my onverwags. Ek lees vreeslik baie spanningsverhale en as 'n skrywer my onverwags vang is dit werklik goed gedoen. Daar is heelwat karakters wat elkeen volledig ingekleur is. Wat egter vir my uitstaan van hiedie boek is die motiewe wat herhaal en die lyn in die twee verhale deurtrek - motiewe soos metastase, skande en kanker. Auschwitz word ook as 'n motief en die gebeure daar rondom in ons kollektiewe geheue word opgeroep en trek deur die boek. 

Die Ondenkbare is 'n meesterlike boek en 'n uitstekende lees. 'n Wonderlike grootword verhaal in die tradisie van Stephen King se "The body" (jy sal dalk die fliek "Stand by me" beter onthou) en soveel ander verhale oor hoe een gebeurtenis 'n kind tot grootword kan dwing in 'n oogwink. Lees gerus - jy gaan beslis nie spyt wees nie - 9/10.



3 comments:

  1. Hy is op my leeslys, en ek sien nou nog meer uit daarna; eers besig met Moord op Karibib, my eers Isa Konrad.

    ReplyDelete
  2. Ek sien uit na jou Dinsdae!!

    ReplyDelete

So what's on your mind?