Tuesday, 6 June 2017

Van genres en ander lekkertes

'n Lekker ligpunt in my lewe tans is die heerlikheid van nuwe skrywers ontdek in Afrikaans. Ek het my Afrikaanse lees baie afgeskeep deur die jare maar kyk, ek is nou besig om werk daarvan te maak. Hierdie jaar het ek meer Afrikaans as Engels gelees - seker die eerste keer in my grootmens lewe. Saam met nuwe skrywers kom ook nuwe genres en style. Vars nuwe stemme. Dit maak my altyd baie opgewonde as ek iets in Afrikaans ontdek wat 'n wêreld tendens is. Dit is nou nie dat Afrikaans nog ooit moes terugstaan nie as ons dink aan die Sestigers nie.

Ek het my grootmens lees jare begin met 'n Universiteits lys van "aanbevole boeke vir Argitektuur studente". Anders as wat jy mag dink het hierdie lys nie 'n enkele boeke wat direk slegs oor Argitektuur gegaan het bevat nie maar het  meer gegaan oor die skep van 'n goeie lees agtergrond en goeie algemene lees kennis. Op die lys was boeke soos "Animal Farm" ," Mein Kampf", "The Fountainhead", "The Unbearable lightness of being", "The Name of the Rose" en "Catch 22". Ook die klassieke werke soos "Lolita", "Where Angels fear to tread" en "Passage to India".

My grootste ontdekking was egter die werke van die Suid Amerikaanse magiese realisme skrywers soos Marquez en Allende ("One hundred years of solitude" en "The House of the Spirits") was op daardie lees lys - ai die lekkerte. 'n Hele ander wêreld het vir my oopgegaan. Daarom ook was my ontdekking van magiese realisme in Afrikaans vir my 'n hoogtepunt - "Die swye van Mario Salviatti" van Etienne van Heerden en Andre P Brink se "Sandkastele" is daarom twee van my gunsteling Afrikaanse boeke wat ek al oor en oor gelees het. Maar ek wil nie eintlik magiese realisme gesels nie - eerder boeke met 'n geskiedkundige agtergrond - soos hierdie twee ook het. Boeke met 'n geskiedkundige agtergrond is nie regtig my gewone leesstof nie maar gooi iets anders by of vertel die storie vars en nuut en ek mag dalk dit baie geniet. Ja, daar is uitsonderinge soos die poetiese skoonheid van PG du Plessies se "Fees van die ongenooides" maar ek hou van beweeg in die hede of onlangse verlede. Die toekoms is oop vir debat - ek het byvoorbeeld "Koors" baie geniet (dit was my 2016 boek van die jaar) en selfs "The Hunger Games" maar dit is nie my eerste keuse oor die algemeen nie.

In dieselfde asem hou ek van boeke wat mens uitdaag om effe anders na die wêreld te kyk - veral die mense naby jou. 'n Boek soos "Gone Girl " van Gillian Flynn en "Broken Monsters" van Lauren Beukes is miskien nie die "mooiste" boeke wat jy ooit gelees het nie" en jy mag dalk nie van 'n enkele karakter hou of aanklank by vind nie, maar jou denke word gedraai en uitgedaag.

Daarom is ek vandag baie opgewonde om oor twee nuwe Afrikaanse boeke te gesels - een in 'n relatiewe nuwe genre - Domestic Noir (dink "Gone girl" en "Girl on a train") en een waar die geskiedenis bewonderingswaardig teer hanteer word en so een van daai groot uitsonderings word in my lewe.

"Pelgrimshoop" van Ronel Nel
Dit is 1956 en Hanna haar broer Abram kom per trein aan in die denkbeeldige dorpie Pelgrimshoop. Dadelik is die leser uiters bewus van hul andersheid in die gemeenskap - hul stads maniere en klere spel dit uit. Boonop is Hanna daar om Elias Bart te onderrig en gou blyk dit dat hy ook 'n uitgewekene of eenkant persoon in die dorp is. Buiten dit is Hanna en Abram half Joods - iets wat in daardie tyd duidelik hul een kant en anders gestel het.

Alhoewel die verhaal in esensie 'n liefdesverhaal is gaan dit oor soveel meer. Die tydperk word in die mooiste details uitgelig met hoe die modes en motors gelyk het. Onder andere die verskying van Tupperware gee wonderlike kleur en detail sonder om die verhaal oor te neem. Die navorsing is duidelik deeglik gedoen en ek het selfs van die klere gaan Google en my verstom aan die kontras tussen wat Hanna en Abram sou dra en wat toe die norm op 'n klein dorp sou wees. Dit gee selfs meer insig in die andersheid wat hulle sou beleef en ervaar het.

Behalwe vir die hoof karakters is die boek gevul met pragtige vol ingekleurde karakters wat bydra tot die storie. Ek wil nie eers uitsonder nie maar die Dokter in sy wysheid en die Dominee in sy aanvanklike kortsigtigheid weerspieel elk die tipes mense wat 'n klein dorpie vandag seker steeds populeer.

In besonder het die gedeelte met die Vrouemars op 9 Augustus my geraak. Toe ek kort na die lees van die boek toevallig fotos van die geskeidkundige dag raakloop het ek myself uitgevang hoe ek na ons vier heldinne op die fotos soek. Vir my het geskiedenis tasbaar geword in 'n fiksie

Maar bo alles gaan Pelgrimshoop oor vooroordeel en aanvaarding, oor rassisme en ongeletterdheid en seksisme. Temas wat vandag steeds daar is. Die geskiedenis van die tyd word teer getoon - en daarmee bedoel ek nie goed word verskuil en weggesteek nie want die hantering van die temas is reguit maar met die nodige ontlonting wat 'n terugkyk in die geskiedenis behoort te hê.

Pelgrimshoop is nie jou tradisionele liefdesverhaal nie maar sal liefdesverhaal lesers wel tevrede stel. Alles rondom die boek is mooi en sag - en ek wil hom graag weer herlees. Dit is 'n unieke boek wat die geskiedenis laat leef en wat tot 'n baie wye leespubliek sal spreek. Ek gee die boek 'n 9/10 en beveel hom aan vir een en almal.

"Die Mense Langsaan" van Elsa Hamersma
Christine en Zebith hou saam skool met die aanvang van die boek. Albei is vasgevang in hulle eie unieke huislike situasie en steek doelbewus wat in hul lewens gebeur veilig weg van die skool en omgewing waarin hulle saam leef. Veral Christine se giftige huwelik met Frikkie het my diep geraak en verskriklik kwaad gemaak.

Hulle paaie skei as Zebith van skool verander en trek na 'n nuwe omgewing - 'n sekuristeits area waar sy gou besef dat haar bure vele geheime hou en dat die gevoel van sekuriteit bloot 'n illusie is. As dit nie was vir haar natuurlike beskerningsin as onderwyseres nie sou sy seker nooit eers betrokke wou wees nie.

Christine se lewe neem 'n groot draai na die mag in haar huweik selfs meer na Frikkie se kant toe skuif en na die nuwe bure betrokke raak in haar lewe - ten goede of ten slegte is die vraag. Die twee se lewens ontmoet weer na hulle mekaar se bure word en die aanvanklike ongemak met mekaar en die situasie is opmerklik en skep sy eie spanning in die storie.

Deur die boek is daar 'n aanvanklike amper onvoelbare spanningslyn wat opbou en opbou tot die oorkook punt. Dit word subtiel en meesterlik gedoen en ek was van die eerste sin vasgevang in die verhaal. Om die waarheid te sê ek het 'n etenstyd ontsnap by die werk om die boek klaar te lees omdat dood eenvoudig nie tot die aand kon wag om die laaste 3 hoofstukke te lees nie.

Soos met ander boeke in die genre wonder mens onbewustelik wat jou eie bure se geheime is. Wat daar agter die skanse van die tuinmuur aangaan. Ek moes diep asem haal en net eers so bietjie dink en tot verhaal kom na ek klaar was met die boek.

Die boek is in n nuwe genre en is 'n vars stem in Afrikaans. Ek het dit werklik baie geniet en meen elkeen wat van iets anders en effe uitdagends hou behoort die boek te lees. 'n 9/10 vir 'n baie genotvolle spannende lees.



No comments:

Post a comment

So what's on your mind?