Tuesday 22 November 2016

Dinsdag - tyd vir boeke!

Ek is steeds aangenaam verstom oor die wonderlike hoeveelheid goeie Afrikaanse spanningsverhale wat deesdae verskyn. Dit 'n fees van lekkerte vir aanghangers van die genre. Dit was dus vir my 'n ware fonds toe die boeke van Isa Konrad my pad gekruis het. Ek kan nie dink dat ek tot nou toe nog nie haar werk onder oë gehad het nie. Die twee boeke wat ek gelees het is egter elkeen 'n perd van 'n ander kleur en wys hoe 'n veelsydige skrywer sy is.
Moord op Karibib - Isa Konrad

Alet se lewe is op 'n totale laagtepunt toe sy stukkend en verneder op Karibib beland - net om haar vas te loop in 'n moord en die gepaardgande intriges wat op alle klein dorpies voorkom. Die sterwende man uiter sy laaste woorde aan haar en voor sy asem skep is sy betrokke in die moordondersoek.


Die boek het 'n opwindende storielyn wat vinnig beweeg en baie lekker lees. Die karakters is heerlik - kleurvol en volrond in meeste gevalle. Konrad skryf baie beskrywend sonder om langdradig te wees en ek kon baie maklik n prentjie van elke karakter in my kop in detail vorm - soveel so dat ek sommige amper kon ruik. Haar atmosferiese beskrywings van die omgewing is net so raak en mens beweeg met gemak in jou kop na Karibib en die plase daar rondom.

Alet self was die een karakter wat my effe geiriteer het - soms wou ek haar net aanpor om haarself reg te ruk en aan te beweeg. Sy is net te mooi, te ryk en te slim om op te tree soos sy soms doen. Miskien laat sy mens effe jaloers en dan wonder jy hoe sy van alle mense beland waar sy het? Nietemin spreek dit van hoe goed Konrad haar karakters aan mens voorstel dat jy so betrokke word by een van hulle. Wat my ook opgeval het is die omslag - as ontwerper stel ek altyd belang in die omslae en die effek daarvan op die leser. Ek dink werklik hierdie een dra vir my bitter min by tot die boek se atmosfeer en mag dalk 'n invloed gehad het in my siening van Alet.

Ek het redelik vroeg in die boek een stukkie van die ontknopings legkaart geraai maar selfs dit het nie die finale einde totaal uitgespel nie en die laast paar bladsye was van die "kan nie neersit nie" gehalte.

Moord op Karibib is 'n heerlike spanningsverhaal en 'n uitstekende vakansie lees. Ek gee die boek 'n 8/10 vir suiwer lees genot . As jy van Chanette Paul se spanningsverhale hou of 'n Lee Child aanhanger is, is ek seker hierdie boek sal so reg in jou kraal val.


Die Soenoffer - Isa Konrad
 Wessel Janke word gestuur na Pretoria om daar 'n onderhoud te voer met een van Suid Afrika se skokkendste moordenaars ooit - 'n vrou wat as kind 'n reeks moorde gepleeg het. Haar agtergrond is seker van die haglikste wat mens kan indink en stadig leer Wessel haar ken as veel meer as net 'n reeksmoordenaar.

Die atmosfeer deur die hele boek is donker en ongemaklik wat bydra om die hele toon van die boek te stel. Konrad beskryf dit so goed dat jy self ongemaklik en angstig voel net soos Wessel. Ek sal nooit weer dieselfde voel oor die Jakaranda bome in my stad nie. Die minder mooi ontbindende blomme in die strate vervang die mooi wat ek so geniet elke jaar.

Die storielyn beweeg in tyd en gee die agtergond wat nodig is om insig in die reeksmoordenaar se lewe te kry. Die poisie verslae verskaf die feitlike inligting en afwisseling waar die emosionele amper oordonderend word. Ek wil nie veel oor die karakters sê nie omdat dit so reuse deel van die storie vorm maar hulle is almal goed ontwikkel en volrond. Daar word ook heel tyd alle kante van die karakters aan jou uitgewys en jy raak self betrokke in jou evaluasie van nie net die moordenaar se motiewe en karakter nie maar van elke ander van die hoofkarakters.

Die omslagontwerp van hierdie boek is vir my uitstekend gedoen en gee die donker atmosfeer en amper ongemaklike gevoel alreeds deur.

Hierdie boek is meesterlik geskryf en die ontknoping skokkend - selfs al raai jy 'n deel daarvan is dit seker een van die moeilikste laaste twee bladsye wat ek ooit gelees het.

Die Soenoffer is 'n sielkundige riller uit die boonste rakke. As jy van Mo Hader, Gillian Flynn of Lauren Beukes se boeke hou gaan hierdie een jou voete onder jou uitlsaan. Baie sensitiewe lesers moet dalk oorweeg of hulle kans sien vir hierdie skokkende verhaal. Ek gee Die Soenoffer 10/10.

LAPA het die boeke aan my verskaf vir resensie doeleinde - die opinies hier uitgespreek is egter 100% my eie

14 comments:

  1. Dit klink soos 'n boek wat ek MOET lees as jy hom 10/10 gee! Beslis twee boeke wat ek gaan oorweeg vir my vakansieleesstof! x

    ReplyDelete
  2. The book covers are intriguing! The post is too long for my Afrikaans to hold up. Soenoffer sounds great, hope there is an English version sometime.

    ReplyDelete
  3. Dankie! Ek lees heeltemal te min Afrikaanse boeke en weet ek moet 'n beter voorbeeld vir ons kinders stel, ek sit hulle albei dadelik op my Kersfeeslys!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek het hierdie jaar die meeste Afrikaans ooit gelees en daar is soveel heerlike boeke!

      Delete
  4. Definitief op my wenslysie! Dankie Rina!

    ReplyDelete
  5. Jy het my sommer lekker lus gemaak om vir 'n verandering 'n boeiende book in my moedertaal te lees. Hierdie is juis die genre waarop ek versot is. Sal op die uitkyk wees vir hierdie boeke.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Jy sa nie spyt wees nie - albei is heerlike boeke

      Delete
  6. Ek weet nie of dit die bemarking is en of ek net nie hard genoeg soek nie, maar ek kry nooit goeie Afrikaanse boeke in die genre wat ek van hou nie...die "moord en vrees" genre. Skielik baie bly ek het hierdie raak gelees want nou weet ek wat ek soek vir Kersfees. Ek sien uit na jou volgende resensie.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Daar is regitg soveel - dis asof Afrikaans ontplof het in die genre. Kyk uit vir Karen Brynard, Martin Steyn, Piet Steyn, Irma Venter en natuurlik Deon Meyer. Ek dink ons word lekker bederf met die boeke beskikbaar LAPA se webtuiste het altyd nuwe nuus - hou hulle dop en ook Grafitti Boeke. Albei kan jy aanlyn bestel

      Delete
  7. Ek word baie afgesit van Afrikaanse boeke omdat die omslae vir my altyd lyk of dit 'n nagedagte was. Ek gaan nou dadelik kyk vir Die Soenoffer.

    (Ek doen gereeld resensies vir boeke, teater en films maar nog nooit 'n Afrikaanse boek gedoen nie.)

    ReplyDelete

So what's on your mind?